| Wysiging aan Wet kan beplanning beinvloed |
|
|
|
| Thursday, 19 March 2009 00:00 | |
|
Wysiging aan wet kan beplanning beinvloed Nico van Gijsen Die Wet op Boedelbelasting (45 van 1955) bepaal in Art. 4A dat die belasbare gedeelte van ’n boedel bepaal word deur ’n bedrag van R3,5 miljoen van die netto waarde van die boedel af te trek.Die Wet op Boedelbelasting (45 van 1955) bepaal in Art. 4A dat die belasbare gedeelte van ’n boedel bepaal word deur ’n bedrag van R3,5 miljoen van die netto waarde van die boedel af te trek. Anders gestel, R3,5 miljoen word van belasting vrygestel voordat boedelbelasting gehef word. Uiteraard kan hierdie vrystelling gebruik word in boedelbeplanning.
Dit werk so: Die bruto boedelwaarde (ingesluit alle bates en geagte bates waar ook al in die wêreld) word bepaal en daarna word alle koste, aftrekkings en vrystellings daarvan afgetrek om die netto waarde te kry. Dit is van hierdie netto waarde af wat ons die R3,5 miljoen aftrek en dit wat oorbly word belas teen 20%. Sowel man as vrou kwalifiseer vir die vrystelling van R3,5 miljoen wat beteken dat ’n netto boedel van R7 miljoen sou kon vererf sonder dat enige boedelbelasting betaalbaar is. Maar juis omdat die vrystelling vir elkeen individueel geld, moes plan gemaak word om nie alles aan die vrou (as die man eerste sou sterf) te bemaak nie, omdat sy dan met die boedel van R7 miljoen sou sit en net R3,5 miljoen sou kon aftrek. Daar sal dus boedelbelasting van R700 000 betaal moet word op die oorblywende R3,5 miljoen. Om dit te voorkom het byvoorbeeld die man (dis maar gewoonlik hy wat eerste sterf), om die aftrekking te kan gebruik, R3,5 miljoen aan byvoorbeeld ’n trust bemaak. Omdat hierdie bemaking aftrekbaar is, het hy nie boedelbelasting betaal nie en sy vrou ook nie, omdat sy dan net ’n boedel van R3,5 miljoen het wanneer sy sterf. Met Manuel se nuwe plan (ek verwag dat dit later vanjaar sal wet word) sal dit nie meer nodig wees dat die persoon wat eerste sterf se bates aan byvoorbeeld ’n trust bemaak word net om sy deel van die boedelvrystelling te kan benut nie. Die nuwe plan maak daarvoor voorsiening dat die gesamentlike vrystelling kan “oor rol” na die langslewende gade. Dit kom daarop neer dat as jy nie die vrystelling gebruik het nie – deur byvoorbeeld al jou bates aan jou vrou te bemaak (vererwing ná ’n gade is vrygestel van boedelbelasting) – sy dan by haar dood die volle R7 miljoen uit haar boedel vrygestel sal kan kry. Daar is dus nou minder rede om ’n trust te moet stig en ek meen die een aspek van trusts wat baie min mense lekker verstaan en die meeste probleme veroorsaak – die beheer van trustbates – word uit die weg geruim. Jy hoef dus nie meer daardie trust te stig nie en jy hoef dus nie beheer oor jou bates af te staan nie. Verder kan jy ook weer kyk na jou lewensversekering, want ek weet baie polisse word verkoop op grond van ’n verwagte boedelbelastingaanspreeklikheid. Wees egter versigtig met hierdie een, dit is selde in jou belang om lewenspolisse te kanselleer. ’n Verdere waarskuwing van my kant af is om nie jou finansiële beplanning suiwer op grond van ’n boedelbelastingaanspreeklikheid te doen nie. Dit sal baie kortsigtig wees. Daar is faktore wat swaarder weeg as belasting. ’n Geakkrediteerde finansiële beplanner sal vir jou die regte raad en oplossing kan bied. ) Nico van Gijsen is besturende direkteur van Finlac. Inligting verkry : News24/Rapport |



